Ek het meer as sestig somers agter die rug, my hare is grys
en my gesig vol plooie. Dus is dit net logies dat ek nie meer in staat daartoe is
om vir myself te dink en te handel nie. Reg? Verkeerd!
Mense dink wel so. Veral wanneer ek saam met my dogter die
strate invaar, word ek onmiddellik onsigbaar, doof en blind. Van die dokter tot
die winkelassistente praat net met my dogter (oor my en my behoeftes) en vind
dit verskriklik eienaardig wanneer ek so vermetel is om self vrae te beantwoord
of te verduidelik wat ek wil hê. Die ‘Tannie’ is veronderstel om te weet dat sy
te oud is om namens haarself te praat.
Ek bel op ‘n dag die verskaffer van ‘n mediese prostese in
Krugersdorp en verduidelik vir hulle presies wat ek benodig. Die produk word
ingevoer van Australië af en dit is belangrik dat die bestelling een honderd
persent reg uitgevoer word, want dit kos my mediese fonds ‘n hele paar duisend
rand. Ek stuur vir haar die mediese fonds se voorskrif en bevestiging van
betaling per e-pos en maak ‘n afspraak vir die volgende Vrydag.
Ek verduidelik ook vir haar dat dat my skedule vir die einste
Vrydag volgepak is; ek moet presies om eenuur die middag van Vereeniging af ry
om in Krugersdorp te kom, my aankope af te haal en dan deur te jaag na
Johannesburg se middestad toe om ‘n belangrike werksvergadering by te woon. Die
bestelling moet dus aaseblief gereed wees om twee-uur, sodat ek betyds kan wees
vir my volgende afspraak.
Op die afgespreekte dag en tyd kom ek en my dogter Krugersdorp
binne gejaag en stop reg by die ingang van die verskaffer. Let wel, ek is agter
die stuur van die motor. Motorsleutels in die hand en handsak onder die arm
hardloop (ja, hardloop) ek die winkeltrappies
op, verduidelik wie ek is en wat ek kom haal. Natuurlik is die bestelling nie
gereed nie, wat de hel het ek dan nou verwag?
Eers is daar ‘n redekaweling oor my bestelling, want nou (NOU
EERS!) moet hulle seker maak dat ek die spesikasies reg oorgedra het. Gelukkig
het ek die mediese fonds se papierwerk in my handsak. Dit uitgesorteer, moet
hulle nou eers gou die bestelling by die stoor in die volgende straatblok gaan
haal en dit sal binne vyf minute daar wees. Vyf minute word tien minute, en toe
twintig minute, en ek word warm onder die boordjie. Ek herinner die assistente daaraan
dat ek in die stad moet kom voor drie-uur.
Sy kyk so wragtag bo-oor my kop en sê vir my dogter: “Dit sal
nie meer lank wees nie. Hoekom vat jy nie solank vir Mammie hier na die Wimpy
toe nie?”. My dogter ken haar ma, word so effens bleek en sê niks. ‘Mammie’ het
daai assistente se gatvelle met een kyk afgetrek, in riempies opgesny en ‘n mat
daarvan geweef. Die vloerbestuurder wat die konsternasie waargeneem het, het
inderhaas ingetree en reëlings getref dat die nodige per koerier afgelaai word
by my huis, op hulle koste.
Dit was nie die eerste keer of die laaste keer wat ek hierdie
soort optrede waargeneem het nie. Ek bedoel, dis mos net logies dat ‘n persoon,
grys van ouderdom en met plooie, wat so ‘n haarfyn bestelling kan plaas, nog vergaderings
bywoon, haar eie motor bestuur, met trappies ophardloop en ‘n gesprek met jou
kan voer, te stjoepit moet wees om self Wimpy toe te gaan as sy dit nodig ag.
Nee, Mammie moet Wimpy toe geneem
word.
Net so tussen hakies, ek hou nogal van Wimpy se kos en eet
gereeld daar. Alleen. Of, by geleentheid, saam met my dogter.
